feet

Evangelie van Johannes

n ware verhaal



Die Woord ... self God!

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! 6Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. 7Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. 8Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig. 9Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld. 10Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. 12Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore. 14En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid. 15Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’” 16Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang. 17Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.




Jesus maak die tempel skoon

13Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 14In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels. 15Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer. 16En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!” 17Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.” 18Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?” 19Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.” 20Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?” 21Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat. 22Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het. 23Terwyl Jesus tydens die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het baie mense in Hom begin glo toe hulle die wondertekens sien wat Hy gedoen het. 24Jesus self het egter nie op hulle staatgemaak nie omdat Hy alle mense ken. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom oor die mens sou inlig nie, want Hy het self kennis gedra van wat in ’n mens aangaan.



Nikodemus besoek Jesus in die nag

1 Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode. 2Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.” 3Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?” 5Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie. 6Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” 9Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?” 10Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie? 11Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie. 12As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel? 13Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens. 14Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word 15sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. 16“God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word. 18“Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie. 19Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos. 20Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie. 21Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”



Jesus in gesprek met ’n Samaritaanse vrou

1 Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes. 2(Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.) 3Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek. 4Hy moes deur Samaria reis. 5Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 7’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” 8Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop. 9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie. 10Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” 11Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water? 12Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.” 13Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. 14Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.” 15Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.” 16Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.” 17Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.” 19Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.” 21Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode. 23Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.” 25Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.” 26Toe sê Jesus vir haar: “Ék is hy – Ek wat nou met jou praat!” 27Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie. 28Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?” 30Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom. 31Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.” 32Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.” 33Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?” 34Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak. 35Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. 36Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. 37In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ 38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”



Jesus is werklik die Seun van God

16Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het. 17Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.” 18Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel. 19Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. 21Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24“Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. 25Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. 26Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. 28Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. 30Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”



Jesus is die brood wat lewe gee

22Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. 23Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is. 24Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus. 25Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” 26Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.” 28Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” 29Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” 30Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? 31Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’” 32Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee. 33“Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.” 34Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.” 35Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. 36Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. 37Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. 38Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. 40“Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.” 41Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?” 43Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. 45In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien. 47“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. 50Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. 51Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” 52Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” 53Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. 55My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. 57“Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. 58“Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.” 59Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.



Jesus is die lig vir ’n mensdom

12Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” 13Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.” 14Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie. 15Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is. 18Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.” 19Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou Vader?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” 20Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie.



Jesus maak ’n man wat blind

1 Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?” 3Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. 4Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. 5Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” 6Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak 7en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien! 8Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?” 9Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.” Die man het toe self reageer: “Dit is ék!” 10Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” 11Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!” 12“Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra. “Ek weet nie,” het hy geantwoord.



Skape wat die stem van die Goeie Herder ken, volg Hom

7Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie. 9Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry. 10Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het. 11“Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape. 12’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle. 13Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie. 14Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, 15net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. 16Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder. 17“Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem. 18Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.” 19Daar het toe nog meer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde van Jesus. 20Baie uit hulle geledere het gesê: “Hy is in die mag van ’n bose gees en hy is mal. Waarom luister julle nog na hom?” 21Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie dié van iemand wat in die mag van ’n bose gees is nie. ’n Bose gees kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?”



Jesus voorspel sy dood

20Daar was ook ’n klompie Grieke onder dié wat opgetrek het om op die fees te kom aanbid. 21Dié mense het toe na Filippus, wat vanaf Betsaida in Galilea gekom het, gegaan en vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus ontmoet.” 22Filippus gaan vertel dit toe vir Andreas. Daarop gaan Andreas en Filippus en vertel dit saam vir Jesus. 23Jesus reageer toe daarop: “Die uur het aangebreek dat Ek, die Seun van die Mens, verheerlik moet word. 24Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. 25Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. 26Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.



Die haan se kraai word as teken vir Petrus gegee

31Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik. 32As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik. 33Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.” 36Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.” 37Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.” 38“Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.”



Die enigste pad na die Vader toe

1“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou. 2In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. 3En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4Julle weet mos waarheen Ek gaan, en hoe om daar te kom.” 5Tomas sê vir Jesus: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die pad daarheen ken?” 6Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.” 8Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.” 9Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader?’ 10Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer. 11Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self. 12“Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is. 13Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik word. 14As julle My enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen.”

Jesus belowe die Heilige Gees

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. 16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees; 17dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon. 18“Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe. 19Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle. 21“Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.” 22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?” 23Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan. 24Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. 25Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is; 26en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. 27“Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, en kom weer terug na julle toe. As julle My liefhet, sou julle opgewonde gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Ek. 29Ek sê dit nou al solank vir julle, nog voordat dit gaan gebeur, sodat julle moet glo wanneer dit ook al gebeur. 30“Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie. 31Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!”



Die voorwaarde vir vrug dra

1“Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het. 4Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie. 5“Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand. 7As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is. 9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly. 10As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het. 11Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het. 13Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra. 15Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het. 16Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.”



Jesus praat innig met sy Vader

1Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 4Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het. 6“Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. 7Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom, 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het. 9Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is. 10Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik. 11Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word. 13“Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind. 14Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. 15Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. 16Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid. 18Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur. 19En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees. 20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is. 23Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet. 24“Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het. 25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”



Jesus blaas sy laaste asem uit

28Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas. 31Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word. 32Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was. 33Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei. 35Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom. 36Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”



Jesus wys aan sy dissipels sy hande en sy sy

19Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. 21“Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 22Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! 23Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”